Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 23 MAART 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Louw, ZS6LME, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In vandag se SARLNuus:

SIR ARTHUR C CLARKE – STIL SLEUTEL

MARIONEILAND WORD GEAKTIVEER

UITSLAE VAN VAKANSIEBAKENKOMPETISIE

7P8FC DXPEDISIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SIR ARTHUR C CLARKE – STIL SLEUTEL

Wetenskapfiksieskrywer en visionêr Sir Arthur C. Clarke is op 19 Maart 2008 in die ouderdom van 90 in Colombo, Sri Lanka oorlede.

Mense wêreldwyd sal Sir Arthur onthou vir die bekendmaking van die konsep vir die gebruik van satelliete in geostasionêre wentelbane vir kommunikasie. In Oktober 1945, publiseer Clarke ’n tegniese artikel getiteld “Extra-terrestrial Relays - Can Rocket Stations Give World-wide Radio Coverage?” in die Britse tydskrif “Wireless World.” Hierdie artikel het die uitvoerbaarheid van die gebruik van kunsmatige satelliete as herleistasies vir aardgebaseerde kommunikasie bevestig. Clarke het voorspel dat eendag wêreldwye kommunikasie moontlik sal wees deur middel van ’n netwerk van drie geostasionêre satelliete wat eweredig om die aarde se ewenaar versprei is.

Amper twee dekades later, in 1964, word Syncom 3 die eerste geostasionêre satelliet om Clarke se voorspelling te verwesenlik. Later die jaar word Syncom 3 gebruik om televisiedekking van die Somer Olimpiese Spele in Tokyo na die VSA te herlei – die eerste televisieuitsending oor die Stille Oseaan. In 1954 stel Clarke voor dat satelliete gebruik word vir weerkunde. Vandag is toegewyde weersatelliete ’n groot deel van die weervoorspellingprosesse.

Arthur C Clarke was die inspirasie vir William Orr, ’n welbekende outeur van amateurradioartikels en boeke, wat van amateurherhalers in die lug gepraat het voordat die eerste OSCAR gelanseer is.

ZS6GCM GAAN ZS8T OP MARIONEILAND AKTIVEER

Skaars terug in Suid-Afrika na sy besoek aan Bouveteiland, is Petrus Kritzinger, ZS6GCM, op sy pad na Marioneiland en sal hy die wêreld se DXers lok met sy ZS8T-roepsein. Petrus sal aktief wees op 160, 80, 40, 30, 20, 17, 12 en 10 meter met gebruik van ESB, GG en RTD. Dit word verwag dat hy in Mei 2008 aktief sal wees, maar dit sal deur sy werkslas op die eiland bepaal word.

Luister vanoggend om 10:00 SAT op 7 082, 7 205 or 17 570 kHz na ’n eksklusiewe onderhoud met Petrus op Amateur Radio Mirror International Besoek die DXpedisiewebwerf vir meer inligting en daar sal gereelde bywerking gedoen word. Klik op die skakel www.sarl.org.za.

VAKANSIE SE BAKENKOMPETISIEUITSLAE TOON INTERESSANTE VOORTPLANTINGSPATRONE

Terwyl min inskrywings ontvang is vir die SARL - HMO Vakansie Bakenkompetisie, is interessante voortplantingspatrone waargeneem.

Die wenner van die 2007 ARRL-Handboek is Joop Hesp, ZS6C. Hy het die drie boodskappe korrek dekodeer. Hy het ZS6SRL om 09:40, ZS2LAW om 18:04 en ZS1HMO om 18:55 ontvang. Soos die nag sy QTH wes van Johannesburg genader het, het die paadjie stadig na die suide geopen. Seine was egter baie swak.

Die DX-Handboek is gewen deur Bruce Rowan, ZS6BK. Terwyl hy op 23 Januarie 2008 met vakansie by Mabula Game Lodge was, het hy ZS6SRL om 12:21 ontvang met ’n sein van 559. Hy het gebruik gemaak van ’n Icom-703 gekoppel aan ’n halfgrootte G5RV-antenna.

Dankie aan almal wat rapporte ingestuur het en baie geluk aan die wenners.

SARL-HMO-BAKENPROJEK AAN DIE BEWEEG

Na die toetsing van ses bakens, is die span besig om verskeie veranderings te implementeer uit lesse geleer. Die inwerkingstelling van die 22 bakens in die aanvanklike program sal vroeg in April begin en teen einde Julie voltooi wees, wanneer dit verwag word dat al die bakens in plek sal wees.

Hierna sal die span ’n digitale ontvanger, ingestel op die 7 023 bakenfrekwensie, toets. Die ontvanger sal die bakens monitor en die inligting stoor om later na ’n rekenaar afgelaai te word.

’n Volledige verslag is beskikbaar op www.sarl.org.za en dit is interessante leesstof. John Willescroft en Lee-Anne McKinnell neem jou deur die toets- en ontwikkelingsprosesse.

SARL NASIONALE KONVENSIE – MOET NIE DIE AMATEURRADIOGELEENTHEID VAN DIE JAAR MIS NIE

Die SARL-konvensie is besig om die gevoel van die jaarlikse SARL geleenthede van die sestigs en sewentigs aan te neem toe mense oor die land heen gery het om deel te neem aan die SARL AJV en die ander funksies rondom die vergadering. Dit is die eerste keer hierdie eeu dat die SARL ’n Nasionale Konvensie hou as deel van die AJV en jy kan dit nie bekostig om dit mis te loop nie. Die konvensie begin op Vrydag 11 April met ’n besoek aan Boyden Sterrewag waar die Astronomiese Verenging jou op ’n reis deur die sterre sal vat. Op Saterdagoggend is die AJV en dan ’n besoek aan die historiese plaas, Onze Rust met die toekenningsdinee in die restaurant langs die huis waar Pres M T Steyn gebly het teen die draai van die vorige eeu. Op Sondag word ontbyt genuttig by die ZS9X-kompetisiestasie met ’n asemrowende gesig oor die Vrystaatse vlaktes en as jy rondstaan om foto’s te neem, kan jy deel wees van ’n lewendige uitsending van Amateur Radio Mirror International.

As jy nog nie bespreek het nie, besoek www.sarl.org.za en laai die program en registrasiedokumente af of stuur ’n e-pos aan zs4bs@netactive.co.za. Doen dit nou, anders gaan jy nie deel van hierdie geleentheid wees nie. Tot op datum het die reëlingskomitee slegs 8 besprekingsvorms ontvang. Die sluitingsdatum is Sondag 6 April 2008.

BACAR 2008-PROJEK BEWEEG VORENTOE

Die verskillende vragte is in ’n gevorderde stadium van konstruksie en sal tydens die volgende BACAR-vergadering getoets word. Die vergadering sal om 11:00 op 5 April 2008 by die Nasionale Amateurradiosentrum gehou word. Sluit aan by ’n opsporingspan of kom kyk hoe word die vragte getoets. Kry ’n bietjie praktiese amateurradio-ondervinding. Jy kan meer van BACAR lees op www.amsatsa.org.za.

KONSTRUKSIEKOMPETISIE MET ‘N VERSKIL

Hierdie jaar verskil die SA Amateurradioontwikkelingstrust se konstruksiekompetisie van ander jare. Jy word genooi om jou idees vir ’n konstruksieprojek in te stuur. Die projek moet ’n toepassing hê in amateurradio en minder as R500 kos om te bou. Die beoordelaars sal drie projekte kies vir deelname aan die tweede en laaste skof van die kompetisie. Die drie fase-een wenners sal die befondsing ontvang vir die ontwikkeling en bou van die projek, wat as ’n werkende model, tesame met al die nodige dokumentasie ingehandig moet word. Die algehele wenner sal ’n Icom D-star Sendontvanger met komplimente van Multisource Telecommunications ontvang.

Die sluitingsdatum vir Fase 1 is 31 Maart. Besoek www.amateurradio.org.za vir ’n inskrywingsvorm en volledige besonderhede van die kompetisie.

HAMNET EN ARRIVE ALIVE OM SAAM TE WERK OOR DIE PAASTYDPERK

Johan, ZS5JL, ’n Arrive Alive geregistreerde monitor sal die IARU Streek 1 noodfrekwensies vir Hamnet en die Arrive Alive projek van die Dept van Vervoer monitor tydens die Paasvakansietydperk. Johan is in direkte kontak met die Arrive Alive Operasionele sentrum. As jy op die lug is rapporteer in oor enige insident. Hoe meer oë hoe veiliger die Paasnaweek.

7P8FC DXPEDISIE

Lede van die Secunda Amateurradioklub en twee Belgiese radioamateurs sal aktief wees vanaf die Katsedam in Lesotho vanaf 27 Maart tot 3 April 2008. Dit sluit deelname aan die CQ WPX Foonkompetisie in. Hulle roepsein is 7P8FC en sal ESB, RTD en PSK op 160, 80, 40, 20, 17, 15, 12 en 10 meter gebruik. Die QSL-bestuurder is ON4CJK. Vêrdere inligting is beskikbaar by www.7p8fc.be/index.htm.

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Hierdie is ’n waarskuwing dat die vroeër registrasie datum vir die SA AMSAT Ruimtesiymposium, wat op 19 April in Durban gehou word, vinnig besig is om nader te kom. Besonderhede is beskikbaar op www.amsatsa.org.za of vra aan by saamsat@intekom.co.za

GEEN PRESIDENTSNET EN INTEGNET HIERDIE MAAND NIE

Met al die vakansiedae in Maart sal daar geen Presidentsnet en Integnet hierdie maand.wees nie. Die volgende Presidentsnet en Integnet sal later in April gehou word. SARLNuus sal die datum bekend maak.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen rustig wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noord-Oos paaie maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noordelike rigtings.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 16:00 is daar moontlike 15 en 20 m-openinge na Europa. Kort, flou 15 m openinge na die VSA is om 19:00 moontlik. Andersins gaan kontakte met die VSA baie uitdagend wees. 10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

27 Maart tot 3 April – 7P8FC DXpedisie;
31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie; en Sluitingsdatum vir nominasies vir Tinus Lange-toekennings;
3 April - SARL 80 meter QSO-geselligheid;
6 April - Sluitingsdatum vir bywoningsbesprekings vir die SARL se AJV;
11 tot 13 April - SARL AJV in Bloemfontein;
12 April - Kemptonpark Amateurradio Tegniese Vereniging begin met 'n Klas B RAE-kursus;
19 April - SA AMSAT Ruimtekommunikasiekonferensie;
21 April – Sluitingsdatum vir Nokia Siemens Netwerk Toekennings.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS0JPL-R, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003